Ek eet, en ek onthou. My herinneringe is gevleg met maaltye, met proe sensasies en eet rituele. Verlede kwartaal vanaf die 9de na die 11de Maart, is ek en vyf klasmaats, deur die Nederlandse Taalunie na Stellenbosch toe gestuur om die Woordfees, en onder andere die Neerlandistiekdag by te woon. Heel gaaf, dankie.
Ek proe die naweek nog.
Die nederige standbeeld wat ons na La Motte verwelkom het |
Die Greyhound bus was, voorspelbaar, twee ure laat. Op ons tasse het ons in die parkeerterrein gesit en uiteindelik, verveeld, ons lekkers uitgedeel. Wine gums en saggeel dinosouruse bedek my tande met ’n laag soetgoed. My goedkoop pastel gekleurde lekkers was fassinerend op die rak, maar in die mond was hulle hard, en skreeu- soet. Ons probeer die smaak uit ons monde kry met ’n vodka – suurlemoen – ment mengsel. Die gevolg is ’n gegiggelery en ’n goeie begin.
Ek het nog nooit lang afstand bus gery nie. En as ek weer daaraan dink, weet ek wat ek sal onthou. Die reuk van my mede passasier se toebroodjies, toe sy 3 uur in die oggend haar dosie se deksel oop kliek en die gis reuk van brood laat ontsnap.
Met honger mage het ons op Stellenbosch aangekom. Voordat ons selfs kon stort het ’n vriendin ons opgelaai en La Motte toe geneem waar ons eerder geld aan wynproe wou spandeer as ontbyt.