Num Num

eat. cook. write.

April 18, 2012

Eet en onthou: Woordfees 2012

Ek eet, en ek onthou. My herinneringe is gevleg met maaltye, met proe sensasies en eet rituele. Verlede kwartaal vanaf die 9de na die 11de Maart, is ek en vyf klasmaats, deur die Nederlandse Taalunie na Stellenbosch toe gestuur om die Woordfees, en onder andere die Neerlandistiekdag by te woon. Heel gaaf, dankie.

Ek proe die naweek nog.
Die nederige standbeeld wat ons na La Motte verwelkom het

Die Greyhound bus was, voorspelbaar, twee ure laat. Op ons tasse het ons in die parkeerterrein gesit en uiteindelik, verveeld, ons lekkers uitgedeel. Wine gums en saggeel dinosouruse bedek my tande met ’n laag soetgoed. My goedkoop pastel gekleurde lekkers was fassinerend op die rak, maar in die mond was hulle hard, en skreeu- soet. Ons probeer die smaak uit ons monde kry met ’n vodka – suurlemoen – ment mengsel. Die gevolg is ’n gegiggelery en ’n goeie begin.

Ek het nog nooit lang afstand bus gery nie. En as ek weer daaraan dink, weet ek wat ek sal onthou. Die reuk van my mede passasier se toebroodjies, toe sy 3 uur in die oggend haar dosie se deksel oop kliek en die gis reuk van brood laat ontsnap.

Met honger mage het ons op Stellenbosch aangekom. Voordat ons selfs kon stort het ’n vriendin ons opgelaai en La Motte toe geneem waar ons eerder geld aan wynproe wou spandeer as ontbyt.


My gunstelinge was die 2010 La Motte Millennium wat jou na gebrande suiker herinner en die mond plesierig skok. Mens wil jou lippe daarna bly lek. Die 2009 Chardonnay was ook veral lip lekker; dit proe soos heuning en botter, met die perfekte maat van Franse hout. Die kroon van die proe was die bediening van mosbolletjies wat dié tyd van die jaar gemaak word. Mens voel asof die wyn en die brood, wat met die oorskiet gis gebak word, ver langs familie is wat juig om weer saam in die mond te kuier.

Van die Neerlandestiek Dag bly Kees ’t Hart by my: hy lees voor en hy dans sy eie roman, ligvoet met swaaiende heupe. 

Tussen in lesings en gesprekke, breek ons en eet bros, botterige Nederlandse koekies, ’n ligbruin goud kleur. Gemaak met regte botter, kraak dit in die mond. Dis altyd vir my snaaks dat al die gaste, aanvanklik huiwerig, net na die uitstalling van koekies kyk.  Wanneer hulle uiteindelik hulle hande uitsteek, vat daaraan en saam eet, dan word hulle skielik meer gesellig en menslik.

Die koekies is bros soos die Nederlands op my ore, en die oë van die digters is soet soos wat hulle soek- soek in die gehoor in kyk.



 In swart en wit tree Sjon Brands en Dorith van der Lee van die Theater van de Verloren Tijd op, intiem, met hand gebare vorm hulle meer betekenis; met gesigsuitdrukkings, altans stout en kill, deel hulle die geheime in gedigte.

Daardie Saterdag aand besoek ons Soete Groete by De Vette Mossell, ’n affêre wat soos ’n eksotiese reisende sirkus van plek tot plek verplaas en die geur van die Weskus saamsleep, sanderig, vrygewig en jolig. Die eerste gang is bakke stomende mossels wat op die lang tafels geplaas word. Hier is geen messe of vurke nie, net papier borde en servette en hulle waarsku dat ons die perfekte mossel skulp nou moet uitsoek om heel aand as lepel te dien. Die aand is n windvlaag van heerlike kos, gesels en luister. Gebraaide snoek, konings word bedien en ysterpotte viskerrie voel asof hulle oneindig is.

Die wind het heel aand geratel, en al hoe sterker en sterker gewaai. Naderhand lag ons soos ons sandkorrels hap, en onder in ons glase klein hopies daarvan kry wat dit laat voel asof ons dalk seewater in plaas van wyn gedrink het. Petra Müller staan op die verhoog, en lees gedigte van haar nuwe bundel voor.  Die wind storm om haar, en in daardie oomblik lyk sy vir my soos ’n towenaar wat woorde nes winde met die gefladder van haar gekreukelde hande kan oproep.

 Hulle oorweeg dit om die ete te verskuif maar ons skud ons koppe, nee asseblief nie. Dit voel magies hierso. Ons kyk en luister na Alexander Strachan, Diana Ferrus, Alfred Schaffer, Leonard Nolens en Kees ’t Hart, deur Dorothea van Zyl voorgestel en gemaklik gemaak. Die woeste weer gee die gevoel dat ons almal dalk in ’n warrelwind opgesuig gaan word, en met die tik van ’n afwesige kulkunstenaar se hakke vervoer sal word na ’n ander plek, ver weg en sprankelend; soet en sappige koeksisters steeds in ons hande en monde.

Toe ek daardie aand gaan slaap, voel dit asof ek in ’n skip gewieg word deur die see (en nee, ek het nie te veel wyn gedrink nie!)


Toe word ek wakker in sonnige Seepunt, my lief het my toevallig na Gesellig toe geneem, ’n eetplek in Seepunt waar daar kroketten op die spyskaart is, wat ek natuurlik bestel het. Daar kom hulle toe, wel op ’n droë stukkie brood en teen ’n hengse prys, maar die vuurwarm harde kors kraak oop as ek dit byt, en die sagte, ryk vulsel skiet die mond in en wip my terug na my kuier twee jaar terug in Amsterdam.   Ons het daar in die laataand na ons feesviering en dans, by die masjiene krokette gekoop om die bier te absorbeer en die maag te bevredig. Dis ewe puik vir ontbyt.


Ek skryf dit weke later, maar ek proe die naweek nog. 

No comments: