Num Num

eat. cook. write.

January 21, 2011

Grappies en Grapes

A note to English readers: This post is about two days I spent at a grape- farm in the Hexriver with my brother and friends. I intended to translate pieces so that you could understand. And then. Google Chrome offered to translate the page into English for the reader. I strongly recommend that you allow this option and then read and roll with laughter. Suffice to say that Google Chrome is not strictly bilingual. Anyway, the pictures say it all. 


Dis vyf uur namiddag en ek skarrel om op die pad te kom. Ek het ʼn kans gekry om van Hermanus af te ontsnap vir twee dae en ek vat koers na De Doorns in die Hex Rivier. Dit is die plek waar dit lyk asof reuse lank terug die prag- berge skeef geklap het.



Hierdie tyd van die jaar is die wingerde so netjies en intens groen dat dit lyk of iemand die vallei ge ‘photoshop’ het.  

Dis ekstra- lekker hier want ek word weer daaraan herinner dat ek eintlik Afrikaans is. (Ek het mos Engels skool geloop, in Engelse kombuise gewerk en nou swot ek op Rhodes waar Afrikaanse mense so skaars is soos hoender tande.)

Die taal sukkel-sukkel om reg uit te rol. My woordeskat het gate in so groot soos Kimberly s’n. My grammatika is nie so sharp nie. My kennis van intensiewe vorme is beperk tot ‘flippin lekker’ en ‘erg-woes’.

Dis oestyd en ek bied aan om te help tafel druiwe verwerk. Die pakstoor is woelig. Vol diep gekreukelde gesigte, diep bruin oë, en gevlekte hande wat knip, pak, weeg en laai. Druiwe pak is nie so maklik soos wat ek gedink het nie. Trouens het ek nog nooit ʼn dosie druiwe oop gemaak en enigsinds gewonder hoe veel moeite daarin gaan nie.














Maar toe leer Tannie Elna my mos dat jy die gekneusde druiwe moet uitknip, asook die kleintjies. Ek pak uitvoer druiwe in klein “snackboxes”. Die reël is dat jy net twee trosse in een boksie mag sit. So dis maar ʼn gesoekery vir trosse wat lekker pas, aangesien die gewig streng gereguleer word. 

Dit is darem gesellige werk. Theo terg my: “Pasop vir te veel druiwe eet; anders braai ons vanaand sonder jou.” Kfm klop by die luidsprekers uit en dit hou die mense soort van aan die gang; maar na dat dieselfde Black Eyes Peas lied vir die derde keer gespeel het reken ek Kfm misbruik die woord “treffer” iets verskriklik.











Ons vriend, ʼn jong boer, verduidelik hoe die hele storie werk. En glo my, dis ʼn storie. Die druiwe word soggens ge-oes en per lorrie in- gery waar die kratte dan met ʼn ‘conveyer belt’ in die stoor in loop. Dan word dit deur knippers ‘getrim’ en deur ‘deurkykers’ gemeet en ge-sorteer. Daarna word dit in spesifieke pakkies gepak, wat later geweeg is, met spesiale papier (om dit vars te hou) verpak is en dan in bokse geseël.















Palette word hoog gepak en staan in die massiewe yskas totdat dit weggery kan word. Die leë bokse staan die hele tweede verdieping toe, waar manne heeldag staan en vou. Buite was ander werkers die kratte ten minste twee keer per dag om dinge higiënies te hou.  Die afknipsels word in dromme gegooi, dan in ʼn pyp stelsel uit gestort wat dit buite in so ʼn sprankelende hoop van pers uitsmyt.




Ek raak na so 2 ure verveeld vir druiwe pak en dwaal liewers bietjie in die wingerde rond. Ek vat Boela en Flekkie vir n stap. Vrek maar dis mooi.


Die beste ding van op Wolwehok kuier is die kuier self. Sjoe. Grappies en grapes gaan lekker saam. Die plaashuis het ʼn braai in die sitkamer- my idee van hemels. En toe besluit die manne hulle het lus om pool te speel en ons spring agter op die bakkie en durf die De Doorns Handelsentrum Hotel aan. Binne in is daar plastiek stoele en keppe wat van die dak afhang. 

Die barman dra ʼn super- extra- large khaki hemp. Die foon lui en hy antwoord in ʼn ernstige stem: “Stads lykshuis”. Dis so droog; ek reken Savannah moet hulle volgende advertensie hier skiet. 





Ek staan Saterdag oggend hectic vroeg op om te kyk hoe hulle die druiwe met plastiek toedraai om reenskade te verhoed. Verbeel jou nou. Ek voel soms te lui om ʼn bakkie sous te cling- wrap. Nevermind ʼn blok hoë wingerde. En dit net just in cases. Dit gaan mos nie noodwendig reen nie. 

So, die volgende druiwe korrel wat ek byt sal ek bietjie rond rol in die mond, ernstig proe en met dankbaarheid sluk. Want nou besef ek: ʼn druiwe tros is meer as net eenvoudig groen of pers. Dit is die vrug van intensiewe aarbeid, van son, van water, van moeite; en van liefde vir dié plaas…

Waar dit voel asof die berge so skeef staan en loer vir die pakstoor wat diep begrawe is in ʼn sunlight liquid-groen see.


(Hoe is dit nou vir in ʼn intensiewe vorm?) 



1 comment:

Anonymous said...

Goed gedoen, Carina! Ek hoop al die mense van De Doorns lees dit. En ek sal ook nou met nuwe oë na die pakkies druiwe by Woolies kyk.
H xx